Die Doping in die Heilige gees
Johannes die Doper het dit baie duidelik gemaak ter voorbereiding van Jesus Christus se aardse lewe en bediening day Hy ook die belofte van God, soos vervat in die Ou Testament (Joël 2), sal vervul deur die wat in Hom glo met die Heilige Gees te doop.
“Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat na my kom Hy sal julle
doop met die Heilige Gees en met vuur!“ (Matteus 3:11)
“En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die BELOFTE van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het. Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank na hierdie dae nie.” (Handelinge 1:4-5)
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” (Handelinge 1:8)
Die vervulling van die belofte met betrekking tot die uitstorting van die Heilige Gees op almal, het op Pinksterdag (die dag toe die Heilige Gees op almal wat in Jerusalem bymekaar gekom het in opdrag van Jesus en gewag het op die uitstorting van die
Helige Gees) begin en het dwarsdeur die geskiedenis tot en met vandag voorgekom en sal aanhou tot en met die Wederkoms van Jesus Christus. Dit was nie alleen die dissipels wat gedoop is in die Heilige Gees nie, maar ook baie ander wat saam met
hulle daar was en as gevolg van die gebeure tot bekering gekom het. Omdat dit die tyd van die Oesfees, die Pinksterfees was, was daar baie mense in Jerusalem wat die gebeure gesien het en wou weet wat dit is. Petrus verduidelik met verwysing na Joël 2 dat dit die vervulling van God se beloftes is en dat dit vir almal is. Die wat geglo het wat Petrus gesê het, het tot bekering gekom en is ook met die Heilige Gees vervul.
“Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader 'DIE BELOFTE VAN DIE HEILIGE GEES' ontvang het, het Hy dit uitgestort, wat julle nou sien en hoor.” (Handelinge 2:33)
Vanuit Handelinge 19 is dit duidelik dat Paulus die doping in die Heilige Gees as onontbeerlik beskou. In werklikheid sluit hy by Jesus aan wat self groot klem daarop plaas, daarin dat Hy die dissipels nie wou toelaat om te bedien alvorens hulle nie die BELOFTE van die Heilige Gees ontvang het nie. (Handelinge 1:4, 5 & 8)
“en in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op ALLE VLEES, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in die dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.” (Handelinge 2:17-18)
“en Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat ELKEEN van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en JULLE sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die BELOFTE kom julle toe en julle kinders en ALMAL wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Handelinge 2:38-39)
Die BELOFTE van die doping met die Heilige Gees is dus vir ELKEEN wat glo in Jesus Christus en ons kan daarop aanspraak maak. Jesus Christus is die doper in die Heilige Gees (Matteus 3:11, Handelinge 2:33) Die doping in die Heilige Gees is ook vir vandag aangesien Jesus nog vir vandag is en nog steeds gelowiges doop met die Heilige Gees. Die doping in die Heilige Gees is nie 'n keuse of vrywillige saak nie, maar 'n absolute noodsaaklikheid vir elke gelowige. Die belofte aangaande die Heilige Gees is net soos enige ander belofte in die Bybel – dit is vir elkeen wat Hom aangeneem het as persoonlike Verlosser en Saligmaker en wil leef soos Hy geleef het.
Vanuit die Bybel kan 'n mens 'n redelike goeie aanduiding kry met betrekking tot die werking van die Heilige Gees, dit wat die Heilige Gees in en deur mense doen. Die volgende aspekte van die werk van die Heilige Gees in mense se lewens word uitgewys om aan te toon hoe noodsaaklik en onontbeerlik dit vir elke mens is om die Heilige Gees volle beheer van hul lewe te gee om Sy werk in hul lewe te kan doen. Die werking van die Heilige Gees is:
1. Om mense te oortuig van wat verkeerd is, nie die wil van die Here is nie en in werklikheid sonde is. (Johannes 16:8-11)
2. Om Jesus Christus in en deur ons lewens te verheerlik. (Johannes 16:14)
3. Om mense in die waarheid te lei. (Johannes 15:26b; 16:13-14 & 26)
4. Om mense te help en te bemoedig. (Johannes 16:7)
5. Om mense toe te rus met die nodige krag en vermoëns om getuies in woord en daad vir die Here te wees (Handelinge 1:8)
6. Om deur middel van die gawes van die Heilige Gees (1 Korinthiërs 12:7-11) mense instaat te stel om met die bediening van Jesus Christus te kan aangaan tot en met Sy wederkoms.
7. Om die navolgers van Christus instaat te stel om mekaar te stig en op te bou deur die werking van die gawes van die Heilige Gees onder hulle (1 Korinthiërs 14:3N4).
8. Om in die navolgers van Jesus Christus innerlike verandering teweeg te bring wat tot gevolg het dat sekere kenmerke van Jesus Chritus deel word van hulle lewens. (1 Korinthiërs 12:3; Gal 5:22 &25)
Volgens Jakobus 3:8 is die tong iets wat die mens nie kan tem nie, en dus die moeilikste deel van 'n mens se lewe om te beheer en onder kontrole te bring. Wanneer iemand dus in ander tale spreek soos deur die Heilige Gees aan hom gegee, dien dit as ‘n teken dat die gelowiges onder die volle beheer en kontrole van die Heilige Gees gekom het.
Tale praat is nie slegs 'n teken van die doping in die Heilige Gees nie, maar ook:
a) een van die mees verhewe wyses waarop God groot gemaak en aanbid kan word (Handelinge 2:11 ; 10:46)
b) dit is 'n verborge taal tussen jou en God (1 Korinthiërs 14:4)
c) dien tot opbouing en stigting van die gelowige self (1 Korinthiërs 14:4)
d) help my om in my swakheid reg te bid (Romeine 8:26)
Uit die voorafgaande is dit duidelik dat die BELOFTE van die Vader vir elke gelowige is. Jesus het gesê ons sal krag bo ons eie vermoë ontvang, die krag van die Heilige Gees (Handelinge 1:8). Dit is ook vir jou.
VOORVEREISTES EN VERWAGTING RONDOM DIE DOPING MET DIE HEILIGE GEES
1. Die enigste voorvereiste om gedoop te word met die Heilige Gees is wedergeboorte. Nêrens word ons in die Bybel geleer dat jy eers in 'n sekere staat van christenskap moet kom of dit op die een of ander manier verdien nie. Die doping met die Heilige Gees kan nie verdien word nie. Dit is 'n gawe en genadewerking van God omdat ons dit nodig het.
2. Glo die BELOFTE is ook vir jou en hou aan om die Here daarvoor te vra totdat Hy jou gedoop het met die Heilige Gees. Vra ander gelowiges om saam met jou tebid en ook vir jou ooreenkomstig die Skrif hande op te lê. Moenie ophou om na die vervulling van die belofte te soek totdat dit in jou persoonlike lewe in vervulling gekom het nie.
3. Dit is belangrik dat 'n mens se motiewe voor die Here suiwer is. Dit moet nie slegs gaan om in ander tale te spreek nie. Die hoof motivering in my soeke na die doping met die Heilige Gees moet sentreer rondom die verheerliking van Jesus Christus in en deur my lewe deur my woord en daad. Daar moet 'n sterk begeerte wees om 'n instrument in die hand van God te wees en 'n lewe te leef waardeur die bediening van Jesus Christus op aarde voortgesit word.
4. Elkeen se doping met die Heilige Gees is 'n unieke gebeure tussen die Doper in die Heilige Gees en die dopeling. Waak teen voorskriftelik te wees deur jou verwagting op die van ander se ondervinding te baseer. Die enigste gemeenskaplike ondervinding van mense wat die doping in die Heilige Gees ondervind het, is die spreek in vreemde tale.
5. Moenie verwag dat iets snaaks met jou gaan gebeur of moet gebeur nie. In die eerse plek sal jy 'n intense ervaring van Jesus Christus vanuit jou binneste ondervind. ‘n Ervaring van Sy nabyheid, liefde en blydskap, wat voel asof dit by jou wil uitborrel. Al wat jy dan moet doen is om jouself oor te gee aan hierdie ervaring in die geloof en gelowig saamwerk met dit wat die Gees in jou doen. Gewoonlik voel dit asof ‘n mens vreemde woorde wil uitspreek wat vanuit jou hart kom en nie met jou verstand bedink is nie. Dit mag ook blyk dat die woorde geen sin maak en onsamehangend is; dit is egter deur God aan jou gegee deur Sy Gees en verheerlik Hom en dien tot stigting en opbouing van jouself. Spreek dus in die geloof soos die Heilige Gees aan jou gee.
6. Dit is belangrik om daarop te let dat in die doping met die Heilige Gees gaan dit om oorgee aan die Gees van God sodat Hy in volkome beheer en kontrole van die gelowige kom.