Wie is AGS Kairos Bedieninge

In die hart van die Karoo lê Graaff-Reinet, die juweel van die Karoo.

Ons gemeente is al deel van die Graaff-Reinet gemeenskap voor die Rand ons land se geldeenheid was, so ons kan sê ons is al deel van die meubels. Ons visie is om 'n aktiewe groeiende gesinskerk vir Jesus te ontwikkel wat in verhouding met ander staan.

Ons bereik daardie visie deur te fokus op dit wat belangrik is; 'n liefde vir God, mekaar en die wêreld. Ons het nie net 'n inwaardse fokus nie maar is ook betrokke in die gemeenskap, in die skole, besighede en enige ander geleentheid wat ons kan aangryp wat sal help dat ons by die velore kan uitkom.

Ons glo en werk daarna dat Graaff-Reinet 'n plek sal wees waar God regeer.

Wat glo ons?


(GELOOFSBELYDENIS)


Die gemeente onderskryf, met enkele uitbreidings en omskrywings, die Geloofsbelydenis soos verklaar deur Die A.G.S. van S.A.:

AANGAANDE GOD:

ONS GLO in die ewige drie-enige God, almagtige Skepper, Onderhouer en Regeerder van die hele skepping; in Hom het alle dinge hul oorsprong, bestaan en toekoms;

ONS GLO in God die Vader, die Outeur van die skepping en verlossing. Hy is die Enigste Bron van Lewe, wat hemel en aarde geskape het en ons as mens geskep het om in `n kwaliteit verhouding met Hom te kan leef;

ONS GLO in Jesus Christus die Enigste Seun van God, waarlik God, as die enigste Weg tot die Vader. Hy is die Waarheid en die lewe wat herstel bring in alle gebrokenheid van die skepping. Jesus Christus wat ter wille van die mens en sy saligheid uit die hemel neergedaal en vlees geword het, wat verwek is deur die Heilige Gees en gebore is uit die maagd Maria; wat op die aarde geleef het as volwaardig mens asook volwaardig God. Hy wat gekruisig is, gesterwe het en begrawe is, opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel, waar Hy aan die regterhand van die Vader sit as waarborg van ons verlossing en waar Hy vir ons voorspraak doen;

ONS GLO in die Heilige Gees, waarlik God, wat van die Vader en die Seun uitgaan. Hy is as Bekragtiger en Helper gestuur wat ons toerus met krag vir ons dienswerk. Hy wat ons bemagtig om te kan bedien met Sy gawes en leef met Sy vrug. Hy wat die wêreld oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel. Hy herinner ons aan die woorde van Jesus en lei ons in die hele waarheid; Hy bemagtig ons om die plan van God op aarde te verwesenlik.

AANGAANDE DIE WOORD VAN GOD EN DIE SAKRAMENTE

ONS GLO dat die Bybel, beide die Ou en Nuwe Testament, die Woord van God is, geskryf deur mense onder die inspirasie van die Heilige Gees, waardeur die plan van God vir die mensdom bekend gemaak word. Ons glo dat dit die definitiewe, outoratiewe kommunikasie van die Wil van God is vir die hele mensdom en onderrig ons in alles wat nodig is vir saligheid en `n lewe van oorwinning hier op aarde. Openbaringswysheid oor die inhoud van die Bybel is alleenlik moontlik deur die verligtende werk van die Heilige Gees.

ONS GLO dat die Doping in die Heilige Gees, die bekragtende ervaring om deur die Heilige Gees gevul te word na die wedergeboorte, bedoel is vir elke gelowige. Die primêre bewys en permanente konsekwensie van hierdie vervulling van die Heilige Gees is die vermoë om in tale te praat, `n gawe wat deur elke gelowige begeer behoort te word. Ons glo ook in die werking van die geestelike gawes en die vrug van die Gees in `n christen se lewe.

ONS GLO in die gereelde gebruik van die Nagmaal; die verbondsmaal, die elemente van die brood en wyn wat simbolies is van die gebroke liggaam van Christus en Sy bloed wat gevloei het. Op hierdie manier, deur geloof, bring ons Sy oorwinning deur die kruis in gedagtenis en verwelkom die implikasies daarvan in ons lewens. Deur gebruik van die Nagmaal deel ons ook in die voordele van die Nuwe Testament soos wat ons dit nou geniet.

ONS GLO in die Doop van gelowiges deur onderdompeling as `n stap van gehoorsaamheid aan die opdrag van die Here en dit moet volg op die ervaring van wedergeboorte.

ONS GLO in die Wederkoms van Jesus Christus, dat wanneer die tyd wat deur God bepaal is, Christus as Koning sal kom en die Kerk sal saamneem.

ONS GLO in `n oordeelsdag waarop Christus die Regter die lewende en dode sal oordeel.

ONS GLO in die opstanding van die liggaam en `n ewige lewe vir die regverdige, en ewige straf vir die goddelose. Ons glo in `n nuwe hemel en aarde waar God in heerlikheid sal regeer!

AANGAANDE DIE MENS:

ONS GLO dat alle mense met geen uitsondering t.o.v. ras, geslag, taal of kultuur geskape is na die beeld van God; as gevolg van hulle ongehoorsaamheid aan God, is die beeld geskend, alle mense het voor God gesondig. Dit is die wil van God dat alle mense saligheid sal ontvang deur die verlossende werk van Jesus Christus op die kruis wat as belofte inhou vergifnis van sonde en saligheid deur geloof. Dit impliseer rekonstruksie, restourasie en genesing vir die totale mens.

ONS GLO dat Jesus Christus die Hoof van die kerk is wat deur die Heilige Gees saamgevoeg is en wat bestaan uit alle wedergebore gelowiges. Die kerk is ook die ‘Bruid’, wat God besig is om voor te berei vir Sy Seun Jesus Christus, die ‘Ewige Bruidegom’. Daar is `n roeping en `n mandaat vir die kerk om op aarde die heerskappy van Jesus te proklameer. Die kerk vind sy primêre uitdrukking in die gemeenskap van gelowiges, wat saam `n gemeente vorm waar verantwoordelikheid vir en aanspreeklikheid teenoor mekaar uitgespreek word, en waar hulle deur bedieninge en gawes van die Heilige Gees ontvang, verantwoordelik is vir die onderlinge gemeenskap en opbou van mekaar.

AANGAANDE DIE CHRISTELIKE WANDEL EN POSISIE:

ONS GLO in die toerusting van elke gelowige deur die bediening van die vyfvoudige gawes van Apostel, Profeet, Evangelis, Herder en Leraar vir die doel om elke gelowige te fasiliteer in die ontdekking van sy/haar individuele doel, ontwikkeling van sy/haar bedieningsgawes en geestelike groei na volwassenheid in Christus. Ons glo dat alle gelowiges `n dissipel van Jesus Christus moet wees en om `n lewe van heiligheid en toewyding te leef waarin hul hele lewe kan funksioneer onder die heerskappy van Jesus Christus.